Hipnose as alternatief vir narkose? Soms!
Eerste galblaas-operasie in Suid-Afrika met behulp van hipnose

 

 Persoonlike verslag deur Pieter Harris - geregistreerde voorligting-sielkundige

Wat is hipnose? Tot op datum bestaan daar geen algemeen aanvaarbare definisie van wat hipnose presies is nie. Breedweg gesproke is hipnose 'n veranderende bewussynstoestand wat by elke mens intree net voor hy of sy aan die slaap raak. Die terapeut sal dan hierdie kort tydjie van ontspanning verleng sodat daar terapeuties met die kliënt gewerk kan word. Wat dan gebeur is die volgende:

  • Jou aandag is tydens hipnose meer gefokus 
  • Jou liggaam is diep ontspanne en jy voel  kalm  
  • Jy is meer ontvanklik vir suggesties (beïnvloeding deur die terapeut) en minder krities en wantrouerig (alhoewel mens beslis nie jou kritiese vermoëns verloor nie).

Faktore wat verder van kritieke belang vir hipnose is, is die vertrouensverhouding tussen die terapeut en die kliënt, die motivering van die kliënt, en die bereidheid om met die terapeut saam te werk. Wat hier volg is 'n beskrywing van die gebruik van hipnose as alternatief  vir narkose, waar narkose moontlike komplikasies kon veroorsaak het weens sekere probleme.

Wat gebeur het is die volgende: Gedurende die nag van Sondag 11 April 1999 het ek 'n akute buikpyn ontwikkel, en is dieselfde nag in die Nite-doc Kliniek te Witbank opgeneem, en die volgende dag oorgeplaas na die Kosmos Hospitaal. Nadat omvattende toetse gedoen is, het die sjirurg dr. R. Van Rensburg my meegedeel dat die galblaas ontsteek is, wat veroorsaak word deur 'n galsteen wat iewers vassteek, en dat die galblaas  so gou as moontlik verwyder moes word. Die gevaar het bestaan dat die galblaas kon bars, wat dan lewensgevaarlik sou wees.

Daar was egter 'n probleem. As gevolg van kroniese asma sedert 1991 is vasgestel dat my longfunksie op daardie stadium minder as 35% was, en dat narkose moontlike asemhaling probleme kon oplewer. My huisdokter, dr. Du Toit Van Rooyen het gevra dat die operasie eers uitgestel moes word, sodat ek intussen eers behandeling kon ontvang om die longe  se funksie te verbeter. Die behandeling was egter nie suksesvol nie, aangesien my longkapasiteit weinig verbetering getoon het. Dit was op hierdie kritieke stadium dat ek aan alternatiewe moontlikhede begin dink het. Ek het begin dink aan hipnose as moontlike alternatief vir narkose.

Terug na bo

 Vervolgens het ek dr. Van Rooyen gevra om vir dr. Louise Olivier, 'n kliniese sielkundige en kollega in Pretoria te skakel en my posisie aan haar te verduidelik, met die versoek dat ons hipnose as alternatief vir narkose moes probeer (Ek was op daardie stadium steeds in die hospitaal). Ek is goed bekend met dr. Olivier, aangesien ek 'n deel van my opleiding in hipnose by haar ontvang het. Dr. Olivier het dadelik ingewillig om Witbank toe te kom, en wel op Saterdag 17 April.

Vooraf het ek, dr. Olivier en dr. Van Rooyen eers 'n “proeflopie” gedoen in 'n hospitaal kamer, waar sy eers 'n hipnose sessie met my gedoen het, en dr. Van Rooyen die operasie prosesdure aan my verduidelik het. Gedurende die hipnose het dr. Van Rooyen vier naalde in die area van die buik waar die operasie snitte later gedoen sou word, gesteek, om my pyn vlakke gedurende hipnose te toets. Behalwe vir 'n effense prik sensasie van die een naald, het ek nie  eers geweet daar is nog drie naalde in my buik gesteek nie.

Dr. Van Rooyen het dr. Van Rensburg in kennis gestel dat die operasie in die teater kon begin, en hy het ingewillig om met sy span die operasie laat daardie Saterdag-middag in die teater te doen. Dr. Olivier het my versoek om eers 'n  gebed te doen, voordat ons teater toe is. Almal was duidelik gespanne, aangesien so 'n operasie nog nooit vantevore in Suid-Afrika gedoen is nie.

In die teater was dr. Van Rensburg en sy span gereed om met die operasie te begin. As voorsorg maatreël het die narkotiseer dr. Pretorius 'n drup in my aar geplaas, om dadelik narkose toe te dien as iets dalk sou skeefloop. 

Dr. Olivier het begin met die induksie (soos dit tegnies genoem word) van hipnose.  Vervolgens het sy 'n pynskaal van 0 tot 10 gesuggereer, waar die syferwaarde 10 'n aanduiding sou wees van maksimum pyn, en 0 geen pyn nie. Sy het by die getal 10 begin, en my (onbewuste) toestemming gevra om die pynvlak geleidelik te verminder – eers van 10 na 9, dan van 9 na 8 en so meer. Die doelwit was om by 0 uit te kom. Die tegniek het daaruit bestaan dat ek deur middel van die beweging van my “Ja vinger” (regterkantste wysvinger) toestemming sou gee dat ons verder af ondertoe met die pynskaal kon beweeg, of 'n alternatiewe keuse om met 'n aanduiding van die “Nee vinger” (duim van die regterhand) te weier om verder met die prosedure voort te gaan (Die kwessie van keuses aan die kliënt gee, is van uiterste belang in hipnose. Dit is 'n flater om 'n kliënt met hipnose te dwing om enige iets te doen wat hy of sy nie wil doen nie. Die kliënt sal doodeenvoudig weier om daaraan te voldoen). 

Terug na bo

Toe ons by die getal 8 kom, het my duim beweeg – wat beteken het dat ek die pynvlakke nie verder verminder wil hê nie. Die rede hiervoor was my angstigheid vir die operasie wat binnekort sou plaasvind, en die onsekerheid of daar nie tog wel baie pyn gaan wees nie. Op daardie stadium het dr. Olivier haar kop heen en weer geskud, wat beteken het dat ons op die punt was om die hipnotiese proses te staak. Sy het egter hierdie weerstand met groot vaardigheid oorkom, my aanvanklike “nee” het in 'n  “ja” verander. Ons kon nou voortgaan. Ons het verder met die pynskaal afbeweeg tot by dien getal 0 – 0 beteken geen pyn nie.

Daar is toe met 'n volgende reeks suggesties begin –suggesties rondom die bekende rolprent “Titanic” (dr. Olivier het my vroeër die dag gevra of ek die rolprent al gesien het). In hipnose het ek in my verbeelding die  sinkende “Titanic” met sy ligte nog helder aan kon visualiseer (soos wanneer mens in jou drome dinge visualiseer of sien, selfs al is die oë gesluit), en kon ek myself verder sien tussen 'n aantal drenkelinge in die yskoue see, met 'n reddingsbaadjie aan. Ek moes my lyf ondertoe toelaat om heeltemal gevoelloos te raak vanweë die koue water. Op hierdie stadium het my kop en lyf begin “dissosieer” (gevoel asof dit skei), wat beteken het dat die operasie nou kon begin, aangesien die buik geen gevoel (pyn) meer sou ervaar nie.

    Links: Dr. Olivier besig met hipnose.  Middel: Trokar pype in posisie Regs: Operasie gaan voort

Met behulp van trokar pype wat gebruik word om met naalde vooraan deur die buik te sny (byna soos 'n boor), is daar 4 snitte in die buik gemaak, om die pype in posisie te plaas, en 'n laparoskopie te doen.  Ek het geen pyn gevoel nie. Dr. Van Rensburg het met die operasie begin, en teen 'n geweldige spoed gewerk. Dit was 'n moeilike prosedure, aangesien hy die eerste keer te doen gekry het met 'n buik wat op en af beweeg soos die pasiënt asemhaal – en nie soos wanneer 'n pasiënt onder narkose is, en hoofsaaklik met die bors asemhaal terwyl die buik dan doodstil is.

Terug na bo

Dr. Olivier het voortgegaan met die hipnose, my hand vasgehou, en 'n storietjie vertel van 'n eend en 'n olifant wat saam in 'n bos gebly het, en eindelose gesprekke met mekaar gevoer het ('n Verwarringstegniek om die aandag af te lei van die operasie). Op daardie stadium het ek besluit ek maak nie kop of stert van die storie uit nie, en het weer in my verbeelding spontaan “teruggegaan” na die sinkende Titanic toe, waar ek steeds in die see rondgedobber het.

Die sjirurg het intussen aan die galblaas begin werk, wat vir my gevoel het asof hy daaraan trek en uitryg, wat baie ongemaklik begin voel het, en nog later in pyn omgesit het. Dr. Olivier het gevra of ek pyn het, en of sy die narkotiseer moet vra om narkose toe te dien. Ek het bevestigend geantwoord, en die res van die operasie is toe wel onder narkose gedoen.

Hipnose het egter ten spyte van die narkose wat toegedien is, voortgegaan. Dr. Olivier het gedurende die narkose gesuggereer dat ek na die operasie maklik en vinnig my bewussyn sou herwin, en ten volle georiënteer wees. Sy het ook minimale bloeding en pyn tydens en ook nadat die operasie voltooi is, gesuggereer (Ek het ook later van die dokters verneem dat daar gedurende die operasie minimale bloeding was).

Na die operasie was ek  gou by my volle bewussyn, en nadat 'n pynstiller toegedien is, het ek feitlik geen pyn verder ervaar nie. Bloeding was minimaal.

Die volgende Sondag-oggend is ek weer deur dr. Van Rensburg ondersoek, en uit die hospitaal ontslaan, aangesien daar geen rede was om my langer in die hospitaal te hou nie.

Hipnose as alternatief vir narkose sou nie aanbeveel kan word as algemene praktyk nie. Dit hang af van verskeie faktore, soos hipnotiese talent (“vatbaarheid” vir hipnose), die vertrouensverhouding tussen kliënt en terapeut, motiveringsvlakke van die kliënt, gewilligheid om saam te werk en so meer. Hipnose kan egter op 'n verantwoordelike wyse as  alternatief vir narkose oorweeg word, veral as verdere mediese opsies uitgeput begin raak, soos hierbo uiteengesit.

Sommige mense skryf hipnose en hipnotiese verskynsels toe aan bose geeste, okkultisme, sataniese magte en dies meer. Dit is te wyte aan onkunde oor hipnose, en veral praktyke soos verhoog hipnose wat 'n totale wanindruk van hipnose gee.  Hipnotiese toestande is natuurlike verskynsels wat in die lewe van elke mens voorkom – 'n mens kan dit nie vermy om nie in 'n hipnotiese trans in te beweeg nie.  Transtoestande kom selfs in 'n erediens voor, waar gelowiges gefokus na 'n preek luister of gefokus saamsing. Dit is eenvoudig onwaar om dit aan sataniese werkinge toe te skryf. Soos dr. Olivier by geleentheid teenoor my opgemerk het: Waarom moet ons al die eer hiervoor aan die Satan gee? Moet ons nie eerder al die eer aan die HERE gee wat ons so wonderlik na sy beeld geskape het, met soveel ingeskape moontlikhede, dat ons vandag hierdie soort tegnieke kan gebruik  om mense wat in nood verkeer te help nie?

Terug na bo

 


Pieter Harris © 2011 | Alle regte gereserveer < Website > by LeighDesign | Maintained by Pro Communications